Wat treffend van die Eindtyd is, is oor wat daar vir ons gesê word, waarteen gewaarsku word, wanneer wat gaan gebeur en wat reeds gebeur het, en wat ons met die inligting behoort te doen. Ons het die voordeel van retrospeksie, wat die eindtyd, met huidige wêreldgebeure, geskiedkundige gebeure, asook bevestiging vanuit die Bybel, duidelik maak. In die boek Daniël word pertinent na die eindtyd verwys. Daniël 2:28. (...en Hy het koning Nebukadneser bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur...)

Die beeld waarvan koning Nebukadneser gedroom het, saamgestel uit mineralebestanddele, was in die vorm van ‘n mens. As ‘n eenheid, stel dit verskillende regeringstelsels voor, en verteenwoordig dit die tydperk vanaf die droom, tot en met die einde van die dae! Hier sê God mos duidelik vir ons dat die tydperk van die einde van die dae begin by die hoof van die beeld (Daniël 2:37,38 – 604v.C). ( Vers 37: U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het, 38:en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die hemel gegee, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het – u is die hoof van goud.)

Die beeld eindig by die voete van yster en klei waarvan die laaste ledemate die tien tone is wat insiggewend is.

Ons moet besef dat alhoewel daar van ‘n droom gepraat en daarna verwys word as ‘n droom, dit nie ‘n normale droom was nie, maar ‘n baie belangrike profesie!! Die droom is bevestiging van God se presiese beplanning en uitvoering van Sy raadsplan. God gebruik Nebukadneser en laat hom droom. Nebukadneser is so vasgevang in die droom dat hy alles in sy vermoë doen om die droom te laat uitlê. Nebukadneser stel ‘n ultimatum aan sy geleerders, besweerders en towenaars, en dreig hulle met die dood.

So benoud raak die geleerdes en besweerders dat hulle aan Nebukadneser oordra dat geen mens op die aardbodem die droom kan uitlê nie, en dat die koning te veel van hul verwag. God maak die droom aan Daniël bekend, en wat sê Nebukadneser aan Daniël? “Waarlik, julle God is die God van die gode en die Here van die konings en die Openbaarder van geheimenisse, daarom was jy in staat om hierdie geheim te openbaar”! (Daniël 2:47). (Vers: 47. Die koning het Daniël geantwoord en gesê: Waarlik, julle God is die God van die gode en die Here van die konings en die Openbaarder van geheimenisse, daarom was jy in staat om hierdie geheim te opbenbaar.) Duidelike Goddelike ingryping!!

God sê vir ons baie duidelik met die droom wanneer die eindtyd is en hoe die eindtyd gaan ontvou!!.

Kommentaar Aangedryf Deur CComment