Druk

Dit staan geskryf in Daniël  12:4 - En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder. Wat beteken dit alles?  Dit is egter duidelik wat ons moet doen. Ons moet die boek deursoek sodat ons kennis kan vermeerder. Dit is opvallend dat die boek verseël is tot die tyd van die einde toe. Dit is dus duidelik dat ons ‘n tydperk sal ingaan dat gebeure rondom ons sal bydra tot die vermeerdering in kennis. Soos baie sê, sien is glo! Dit is presies hoe ons kennis gaan vermeerder, of inderwaarheid eerder deur die waarneming van die gebeure rondom ons wat vooruit in die Skrif vir ons aangedui is.

Wat baie belangrik is, is dat sou ons tans gebeure rondom ons waarneem wat lank gelede vir ons gesê is dat dit sal gebeur, beteken dit inderdaad dat die tyd van die einde baie naby is, of dat ons reeds in die tyd van die einde is. Op die webblad is daar reeds uitgespel dat ons in die tydperk van die voete is soos deur die tydperke aangedui  deur die beeld waarvan Nebukadneser gedroom het in Daniël 2. Gebeure wat nog moet plaasvind wat defnitief sal aandui dat ons in die tydperk van die einde is, is dat kontant uit die ekonomie onttrek moet word. Waar in Die Skrif word dit aangedui Opb 13:17 – Sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het. Deur hierdie vers logies te benader, is dit duidelik dat kontant onttrek sal moet word. Solank kontant beskikbaar is, kan geen stelsel verhoed dat mens kan koop of verkoop nie.

Die koop- en verkoopaksie, soos aangedui in Opn 13:17, word slegs moontlik gemaak deur die verkryging van die merk van die dier. Dit beteken dat daar ‘n stelsel afgedwing sal moet word, wat mense  in staat gaan stel om te kan koop en verkoop en ook deur die stelsel gemonitor en beheer kan word. Die ontwikkeling van die mikroskyfie is tans die enigste stelsel waar dit nodig is dat dit soos ‘n merk onder ‘n mens se vel ingeplant moet word, wat totale beheer van die ekonomie sal oorneem. Die oomblik as kontant uit sirkulasie verwyder word, sal die geldstelsel beheer kan word deur die gebruik van die mikroskyfie as betaalstelsel.

Wat is tans besig om te gebeur? Die Riksbank in Swede was die eerste bank wat gedurende  die 1600’s banknote uitgereik het. Die bank is tans die eerste bank wat in die proses is om virtuele geld in gebruik te neem.  Dit kom daarop neer dat kontant uitgefaseer word. So ook is die bank van Engeland besig met dieselfde proses. Dit is veelseggend dat virtuele geld ‘n gebruiksartikel is wat deur die mikroskyfie as betaalstelsel beheer kan word. Ons kan slegs waarneem en observeer of kontant deur die prosesse uitgefaseer gaan word. Sou dit wel plaasvind, sal dit ‘n baie sterk aanduiding wees van hoe naby die einde van tyd is.

Die Eerste Nasionale Bank is reeds besig om in takke van hulle duimafdrukskandeerders te installeer. Dit sal binnekort die kaartstelsel vervang. Capitec Bank gebruik die tegnologie al ‘n geruime tyd. Wanneer gaan daar begin word om duime af te sny, om met bedrog voort te kan gaan? Banke is ook besig met ‘n gefokusde afleggingsprogram, wat beteken dat al hoe meer mense sonder werk gaan wees. Dit is die proses wat genoodsaak word om die uitfasering van banke wat gaan volg, moontlik te maak.

Nog ‘n proses wat tans debatteer word, met die verwagting dat dit in die wet omvorm gaan word, is die voornemende wet op haatspraak. Die omskrywing van haatspraak wat die owerhede in die wet wil vasvang, is so wyd dat feitlik enige neerhalende woord as haatspraak beskryf kan word. Ons weet hoe sterk die uitsprake in Die Skrif is, oor homoseksualiteit. Indien dievoornemende haatspraakwet in die huidige vorm aanvaar word, sal daar geensins na homoseksualiteit verwys kan word op ‘n negatiewe wyse nie. Dit sal mens ‘n groot boete, of selfs tronkstraf op die hals haal.

Wat is egter in der waarheid besig is om te gebeur? Die gesag van Die Skrif, of meer presies, die Woord van God, sal ondergeskik gestel word, aan die haatspraakwet. Ons sal binnekort ingelig word oor wat die wet op haatspraak behels. Indien dit in die huidige formaat aanvaar word, kan dit nie anders beskou word as dat Daniel 12:11 besig is om in openbaring te kom nie:Dan 12:11  En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend twee honderd en negentig dae verloop. Die haatspraakwet kan die voorloper wees van die oprigting van die ontsettende gruwel. Wat kan erger wees as om God se Woord te vervang en ondergeskik te maak aan ‘n menslike wet? Is dit nie ‘n ontsettende gruwel nie? Daar gaan teen God se Woord gediskrimineer kan word, en waar laat dit ons wat God se Woord wil uitleef? Wat gebeur as jy vir iemand sê hy is ‘n sondaar, sou hy teenstrydig met God se Woord optree? Gaan jy beboet word, of in die tronk beland? Indien ons nou in die tye ingaan soos in Daniël 12:11 aangedui word, dan is ons baie naby aan die tyd van die einde, baie nader as wat deur die meeste voorsien word.